Wanneer dit tyd is vir ’n nuwe knie

Posted on 15 September 2014

’n Knievervanging kan jou lewensgehalte aansienlik verander – en danksy nuwe tegnologie en mediese vooruitgang is die operasie nou veiliger en meer suksesvol as ooit. Dr Peter Smith neem ons deur die prosedure.

Woorde Nicola Bekker

Read this in English.

Toe…
Verbeel jou: Dis die mid-1950’s en ’n pasiënt word vir ’n knievervanging voorberei. Artritis het ’n verlammende uitwerking op hom. Dit het sy kniegewrig in so ’n mate weggevreet dat die gewrig misvorm is en hy voortdurend in erge pyn is. Die operasie is nog in sy eksperimentele fases en dokters doen dit as n laaste uitweg. Hy is onder narkose geplaas en chirurge begin werk. Hulle sny sy been van die dy tot by die kuit oop om sy femur en tibia bloot te lê. In ’n operasie van tussen drie en vier uur word sy kniegewrig met ’n eenvoudige skarniergewrig vervang. Die risiko van infeksie is hoog, herstel is stadig en die nuwe knie sal nie baie goeie resultate lewer nie.

Ná die operasie word hy na die hoësorgeenheid geneem waar hy minstens ’n week sal moet deurbring. Tot drie maande in die algemene saal volg, en dit sal nog ’n volle jaar duur voor die pyn en ongemak begin verminder. Hy moet steeds met krukke loop en sal heel moontlik altyd met een of ander hulpmiddel oor die weg moet kom. As hy gelukkig is, sal sy nuwe knie vyf jaar hou.

…Nou
Vandag is dinge baie anders. ‘Knievervangings is nou ’n baie suksesvolle prosedure as dit kom by pasiënttevredenheid,’ sê Dr Peter Smith, ’n ortopediese chirurg by Mediclinic Milnerton in Kaapstad. ‘Pasiënte het ’n letsel van net so 20cm, teenoor een wat oor bykans die hele lengte van die been strek.’’n Algehele knievervanging duur gewoonlik so 90 minute. Dis ’n hoogs gesofistikeerde proses, met rekenaartegnologie wat chirurge help om vas te stel presies waar om te sny en hoe om die nuwe knie te posisioneer en sagte weefsel te balanseer.

Die nuwe prosesse en vooruitgang het die prosedure veiliger gemaak, verduidelik Dr Smith. ‘Van die komplikasies wat die meeste gevrees word is infeksie en diep-aar trombose, maar die gebruik van profilaktiese antibiotika [antibiotika wat gegee word om ’n infeksie te voorkom, teenoor dié wat ’n bestaande infeksie behandel] het dié gevaar aansienlik verminder.’

Bloedklonte en fatale embolisme is verminder met teenstollingsmedikasie en chirurgiese kouse. ‘Ons mobiliseer die pasiënte deesdae baie vinniger, wat die risiko van diep-aar trombose verminder,’ sê hy.
‘Oor die afgelope vyf jaar is pasiënt-spesifieke beensnygidse en pasiënt-spesifieke chirurgiese instrumente ontwikkel. Dit word gedoen met behulp van CT- en MRI-skanderings van die pasiënt se knie voor die operasie.’Driedimensionele drukwerk word soms gebruik om ’n prostese te maak, veral waar die chirurg te doen het met beenverlies. Maar 3D drukwerk word nie algemeen in algehele knievervangingchirurgie in Suid-Afrika gebruik nie, sê Dr Smith.

Die gehalte van die prostese wat gebruik word, het drasties verbeter en die nuwe gewrig – van onder meer titaan gemaak – boots die kniegewrig na, wat beteken dat pasiënte baie makliker kan loop. Fisioterapie ná die operasie is egter noodsaaklik, voeg Dr Smith by. En hoe lank hou vandag se nuwe knieë? ‘Hulle kan vir tot 20 jaar lank werk,’ sê Dr Smith. ‘Maar pasiënte moet realisties wees – mettertyd kan dit nodig wees om ’n onderdeel of al die komponente te vervang.’

’n nuwe sikspens
Sheila Whitfield se linkerknie het so 10 jaar terug begin moeilikheid gee. ‘Ek het 70 geword en gedink dit was maar die ouderdom,’ sê sy. ‘Ek het inspuitings gekry vir die pyn en ’n artroskopie [minimaal ingrypende chirurgie om kniepyn te diagnoseer en behandel] is gedoen en ek het aangegaan.’

Toe, vyf jaar gelede, slaan die noodlot toe. ’n Baker sist – gewoonlik ’n nie-kwaadaardige swelling in die knie – het in haar ander knie gebars. Dit het ernstige sellulitis veroorsaak, wat gelei het tot septiese artritis. Sheila is in Maart 2010 in die Mediclinic Pietermaritzburg opgeneem vir ’n algehele knievervanging, maar sy was in ’n baie swak toestand – sy het nierversaking gehad en moes eers gestabiliseer word voor die operasie gedoen kon word.

Sy was vir verskeie dae lank in die hoësorgeenheid ná die operasie voor sy na die algemene saal oorgeplaas is. Agt dae later is sy ontslaan na die respytversorgingsafdeling by haar aftree-oord. Herstel was stadig, maar toe sy eers beter was het sy oorweeg om haar ander knie ook te laat regmaak. Die pyn van artritis sou net erger raak, het haar dokter gesê.In Januarie 2012 is sy terug na Mediclinic Pietermaritzburg vir haar tweede knievervanging – en ná die drama van die eerste een was dié een baie maklik. ‘Ja, dit was seer, maar ek het eers ’n spinale blok gekry en toe pynstillers. Dit was dus hanteerbaar. Ek het ’n fantastiese chirurg en ’n briljante huisdokter gehad – en die verpleegsters, veral dié in die hoë-sorgeenheid, was wonderlik,’ sê sy. ‘My fisioterapeut het my die dag ná die operasie kom sien en begin met ligte bewegings deur die been te lig en buig,’ verduidelik Sheila. ‘Sy het my ook aangemoedig om byna onmiddellik weer te begin loop. Ek was baie pligsgetrou met die fisio en ek dink dit het ’n groot verskil gemaak.’

Sheila het ná albei operasies met krukke probeer loop. ‘Ek het nie daarvan gehou nie,’ sê sy. ‘Ek het vir ’n rukkie ’n loopraam gebruik, toe ’n kierie en toe niks – tensy ek ’n lang ent gaan stap het.’ Deesdae lei hierdie 80-jarige ma van drie, ouma van agt en ouma-grootjie van een ’n vol, aktiewe lewe. Sy stap elke dag minstens 2km, speel kroket en moedig haar kleinseuns langs die sportveld aan. ‘Nuwe knieë het my lewensgehalte ongelooflik verbeter,’ sê sy. ‘Ek sal dit vir enigiemand aanbeveel.’

Wie het dit nodig?
’n Slegte besering wat nie behoorlik herstel het nie, chroniese siekte, en slytasie is die mees algemene redes vir knievervangingchirurgie. Die meerderheid van knievervangings word op bejaardes gedoen. Jare se gebruik kan veroorsaak dat kraakbeen kraak en verweer, wat dan veroorsaak dat bene teen mekaar skuur en grof en verslete raak. ’n Prostese verlig pyn en verhoog beweeglikheid.

Net ná die operasie sal jy hulp nodig hê om oor die weg te kom. Krukke en looprame word gewoonlik aanbeveel. dis beter om dit te huur, aangesien jy dit heel moontlik nie lank gaan nodig hê nie. Apteke en winkels met mediese voorraad het ’n wye reeks te koop en te huur.

Oor die jare

1954
Die Britise chirurg Dr Leslie Gordon Percival Shiers, pionier van knievervangingchirurgie, publiseer sy oorspronklike referaat oor die prosedure in die Journal of Bone and Joint Surgery.

1960’s
Dr Shiers weier om sy uitvinding te patenteer. Hy verkies om eerder die operasie wêreldwyd te demonstreer en nooi ander chirurge uit om sy idee te verbeter. Vroeë operasies is nie ’n groot sukses nie – die skarniergewrigte wat gebruik word werk nie goed nie en die tempo van infeksie is hoog.

1970’s
Meer gevorderde inplantings, genaamd kondilêre algehele knie-inplantings, word ontwerp. Hulle is slegs in twee groottes beskikbaar en is soliede stukke. Ortopediese chirurge is aanvanklik versigtig vir hulle weens skarnier-gewrigte se swak geskiedenis. Maar soos suksesverhale meer algemeen word, kry hulle meer vertroue en word meer operasies gedoen.

1980’s
Inplantingmaatskappye ontwerp prosteses wat makliker is om te plaas en beter instrumente
wat die chirurgie makliker maak om uit te voer.

1990’s
Gedeeltelike en algehele knievervanging-chirurgie word wyd aanvaar, met uitstekende resultate wanneer dit gedoen word om artritispyn te verlig. Die vervaardiging van die meganisme verbeter voortdurend. Vandag word ’n kombinasie van metaal en plastiek gebruik om maksimum beweeglikheid te verseker.

Read this article in English.

The information provided in this article was correct at the time of publishing. At Mediclinic we endeavour to provide our patients and readers with accurate and reliable information, which is why we continually review and update our content. However, due to the dynamic nature of clinical information and medicine, some information may from time to time become outdated prior to revision.

Published in Magazine

In the interest of our patients, in accordance with SA law and our commitment to expertise, Mediclinic cannot subscribe to the practice of online diagnosis. Please consult a medical professional for specific medical advice. If you have any major concerns, please see your doctor for an assessment. If you have any cause for concern, your GP will be able to direct you to the appropriate specialists.

Post a comment

Leave a reply