Hoop vir nierlyers

Posted on 12 November 2014

Sonder jou niere, die liggaam se suiwerings­aanleg, is jy soos ’n koffiemasjien sonder ’n filter. Maar daar is hoop: hier verduidelik ons hoe dialise die niere se funksie kan oorneem.

Woorde Mia Albertyn

Read this article in English.

Tot die mid-20ste eeu het pasiënte met nierversaking nie lank geleef nie. Danksy die Nederlandse dokter Willem Kolff, wat in 1943 die eerste kunsnier prakseer het, is ons kanse op oorlewing as ons superfiltreerders die handdoek sou ingooi vandag baie beter.

Kolff het met lemoensapblikkies, bloedgevulde worsomhulsels en selfs ’n wasmasjien eksperimenteer om een van die belangrikste uitvindsels van moderne geneeskunde te ontwerp. In 1945 het die eerste pasiënt wat aan sy dialisemasjien gekoppel is, oorleef – die 67-jarige vrou, wat weens nierversaking in ’n koma was, het daarna vir nog sewe jaar geleef.

Voor dialise kan begin…
As jou niere nie reg werk nie, bou gifstowwe in jou lyf op, styg jou bloeddruk en swel jou ledemate weens oortollige vloeistof.
Volgens Dr Derek Miller, ’n nierspesialis by Mediclinic Constantiaberg, verswak baie min Suid-Afrikaners se nierfunksie egter sodanig dat hulle vir dialise en nieroorplantings in aanmerking kom. Eers wanneer ’n pasiënt se nierfunksie onder 15% daal, word dialise oorweeg – en dan sal die behandeling slegs begin indien hulle simptome van nierversaking toon of die vlakke van gifstowwe in hul bloed lewensgevaarlik hoog is.

Die groot vraag
Volgende sal daar vasgestel word of die pasiënt hemodialise of peritoneale dialise moet ontvang. Hemodialise word drie maal per week vir sowat vier uur in ’n dialise-eenheid gedoen, waar ’n dialisemasjien sommige van die nierfunksies naboots. Peritoneale dialise behels dat ’n spesiale vloeistof deur ’n kateter in die buikholte getap word. Afval-produkte beweeg uit die bloedvaatjies om die derms tot in hierdie vog, wat dan afgetap en met ’n skoon vloeistof vervang word. ’n Mens behartig die prosedure self, vier keer per dag, en dit kan tuis, by die werk of selfs op reis gedoen word.

Lewenslyne
As daar op hemodialise besluit word, moet die persoon aan ’n dialisemasjien gekoppel word.
Vir vinnige toegang tot die sirkulasiestelsel kan ’n hemodialiselyn onder lokale of ligte verdowing onder die vel ingetonnel word, verduidelik Dr Theo Hattingh, ’n nefroloog by Mediclinic Panorama. Die ideaal is egter om ’n arterioveneuse fistel – ’n verbinding tussen die arterie en die oppervlakkige aar – in die arm te skep wat drie keer per week met ’n naald gesteek kan word,
voeg Dr Hattingh by, maar díe proses neem sowat drie maande.

By die dialise-eenheid…
1. Sodra ’n pasiënt gereed is vir hemodialise, meld hulle aan by hul plaaslike eenheid, waar hulle geweeg en hul koors, bloeddruk en polsslag gemeet word.
2. Die persoon sal gemaklik gaan lê, waarna ’n suster twee naalde in hul arm steek.
3. Hul bloed word deur een naald en ’n spesiale buis gestuur na ’n dialiseerder – ’n soort kunsnier met duisende hol veseltjies daarbinne. Die bloed vloei deur die middel van die vesels terwyl ’n vloeistof bekend as ’n dialisaat in die teenoorgestelde rigting buite die vesels loop. ‘Die gifstowwe beweeg deur diffusie tot in die dialisaat,’ verduidelik Dr Hattingh.
4. Die gereinigde bloed keer dan terug na die liggaam deur ’n ander buis en die tweede naald.
5. Ná die behandeling verwyder die suster die naalde en verbind die wonde om bloeding te voorkom.

Dialise kan iemand vir jare aan die lewe hou maar vervang nie die volle funksie van ’n gesonde nier nie. Nie almal is egter so gelukkig om vir ’n nieroorplanting te kwalifiseer nie – maar danksy tegnologie en Kolff se nalatenskap kan ’n mens selfs sonder ’n nuwe nier ’n normale lewe lei.

Nierversaking: die rooi ligte
Iemand wat aan nierversaking ly, sal naar voel, hul aptyt verloor en baie gewig verloor. Ander simptome sluit hoë bloedduk, hoofpyn en geswelde ledemate in. ‘Die idee is egter om nierprobleme vroegtydig op te tel deur jou urine gereeld deur jou huisarts te laat toets vir bloed en proteïen,’ sê Dr Derek Miller, ’n nierspesialis by Mediclinic Constantiaberg. ‘Indien die resultate jou huisarts bekommer, sal hy jou bloed laat toets vir gifstowwe waarvan die niere normaalweg ontslae raak.’
Indien dié toets op versaking dui, moet ’n nierspesialis volgende vasstel of dit akuut of chronies is.

Hoe werk jou niere?
Die niere is twee boontjievormige organe, elkeen ongeveer so groot soos ’n gebalde vuis, aan weerskante van die ruggraat.
Bloed vloei deur die nierslagare na die niere en verlaat hulle deur die nier-are. Binne elke nier is ’n netwerk van filters (nefrone) wat afvalstowwe uit die bloed filtreer en in urine omskakel. Só suiwer die niere omtrent 180 liter bloed per dag!
Die niere reguleer ook die pH-vlakke van die bloed, die bloeddruk en die hoeveelheid water in die liggaam en skei hormone af wat die vorming van rooibloedselle stimuleer.

The information provided in this article was correct at the time of publishing. At Mediclinic we endeavour to provide our patients and readers with accurate and reliable information, which is why we continually review and update our content. However, due to the dynamic nature of clinical information and medicine, some information may from time to time become outdated prior to revision.

Published in Magazine

In the interest of our patients, in accordance with SA law and our commitment to expertise, Mediclinic cannot subscribe to the practice of online diagnosis. Please consult a medical professional for specific medical advice. If you have any major concerns, please see your doctor for an assessment. If you have any cause for concern, your GP will be able to direct you to the appropriate specialists.

Post a comment

Leave a reply